Angels
deur
Sarel Botha
14 September 2008 - Sjoe! Dit is feitlik uitputtend om
te probeer soek vir iets wat moontlik verkeerd kan wees met 'n
album wat uitmuntende standaard reflekteer en sonder twyfel deur
meesters gekonstrueer is. Met bekende produksiebestuurder Niël
Schoombee en die meesterlike afrigting en ander ondersteuning
deur Hendrik D Loock kan daar net absolute werk soos vanuit die
hemel geskep word.
Reg van die eerste noot af word mens meegevoer na 'n ander
wêreld - een van rustigheid, skoonheid, puurheid, onskuldigheid
en amperse "sonder sonde" atmosfeer. Die ANGELS, wat bestaan uit
17 talentvolle kinders tussen die ouderdomme 11 en 14 wie se
stemme voorwaar geklassifiseer kan word as engelstemme, is
geselekteer uit die Tygerbergse Kinderkoor wat al meer as 36
jaar lank bestaan en wat omtrent elke moontlike toekenning in
die wêreld ontvang het.
Wat my die meeste beïndruk het is die feit dat die album 'n
helende "vergeet-van-die-wêreld daarbuite"-uitwerking op mens
het. Dis asof jy sweef tussen klank, stem en wolke en wanneer jy
klaar geluister het, is dit asof jy terapie en massering ontvang
het en sommer weer pure mens voel.
Die repertoire is baie versigtig gekies en elke noot perfek
beplan en ek daag enigeen uit om te probeer 'n enkele noot kry
wat selfs soveel as 'n fraksie van die noot af is. Dit laat mens
met 'n gerustheid dat jy maar voluit kan luister, want daar sal
absoluut geen onaangename verrassings wees nie.
Hierdie is 'n album wat heeltemal van die hoofstroom afwyk, maar
ironies genoeg hoofstroom musiek gebruik om dit te doen - 'n
feit wat na my mening die sukses van hierdie konsep sal
onderstreep in die tye wat kom. Die snaarinstrumente word deur
Eclips gespeel wat verder die kwaliteit van die album beklemtoon.
Ons het elkeen so een keer per week 'n pure stiltetyd nodig waar
mens weer jouself kan vind - met hierdie album wat in die
agtergrond speel sal jy beslis jou doelwit met gemak en pure
plesier bereik. As jy 'n persoon is wat van lewendige musiek hou
en gladnie plek in jou hart het vir ander genrés nie: Ek daag
jou uit om hierdie album aan te skaf, dit drie keer deur te
luister en dan nog vir my te sê dit staan jou nie aan nie - man,
hulle vat raak!
Persoonlike gunsteling: Yesterday
Gradering (maksimum is *****):
Musikaliteit: *****
Kommersiële potensiaal: ***
Repertoire: *****
Produksie: *****
Algeheel: ****
Nog resensies
... klik hier!

|