Goue Drome

Jou musiek ... ons passie!

     

 

Nog resensies ... klik hier!

Sarah Theron

Vertoning hoofsaaklik gebaseer op die album "Sit die ketel aan" opgevoer te Elizabeth Place, Port Elizabeth op 21 Augustus 2008

SARAH THERON SE KETEL KOOK

 

Dit was my voorreg om gisteraand SARAH THERON se vertoning by Elizabeth Place in Newton Park, Port Elizabeth by te woon.

 

Dis ‘n eienaardige mens hierdie. Sarah Theron. Daar is iets aan haar wat mens fassineer. Maar dit wat my soos ‘n magneet getrek het was haar oë. Ek kon die hele vertoning deur net nie my oë van haar oë af hou nie. Dis praatoë, verteloë, intrekoë, diep oë. Dalk is dit haar glimlag wat die agterhoede van haar oë vorm, die eintlike ding – maar nee, dis nie die glimlag nie, dis die oë … daar’s ‘n lag daarin, ‘n uitdaging …

 

Sy het sommer haar lem regdeur die vleis gesny en op die been geland met haar nuutste treffers heel aan die begin van die program en dan die minder bekendes terwyl mens nog in jou brein herkou aan die lekker en die soet van die openingstreffers. Interessante strategie hierdie van haar. Sy het die element dadelik aangesit en die water kook toe sommer vroeg al en die water bly warm regdeur die vertoning. Maar hoe goed sy ookal die ander liedjies vertolk, en sneeuballend gouer as wat mens verwag klimaks bereik met PURPLE RAIN, bly die KETEL, ENGEL Oë en  OUMA SERAH, die ruggraat van haar vertoning ... die stoom van haar kokende water oorweldig mens en hierdie liedjies kom lê in jou kop soos afgestoomde tatoeëermerke.

 

Daar is absoluut niks wat ervaring kan vervang nie, en daarvan het Sarah baie, baie – hope! Ons het haar almal al lankal dopgehou, maar dis eers toe die KETEL in haar loopbaan begin kook het dat ons baie opgewonde begin raak het oor haar. Sy slaag daarin om haar ervaring te verpak in haar liedjies en dit netjies uit te pak terwyl sy gemaklik sing, maar die beste van alles: Sy het nie kraanwaterliedjies gebruik nie. Nee, dis fonteinwater, silwerskoon, sprankelend, borrelend, dis hare, dis nuut, dis Sarah Theron - niemand anders nie. En hierdie fonteinliedjies groei op mens.

 

Jy sal haar net eenvoudig MOET sien – jy is arm as jy nie deur haar element gekook is nie … of koop die album as jy die hitte sal kan vat!

 

Dit was nog so onlangs as by die 2008 KKNK wat ek vir Andrew van Select gesê het ek sukkel nog om sommige van Sarah se repertoire in te asem – hy het my verbaas aangekyk, nou weet ek hoekom. Ek was toe nog bekommerd dat BABY haar beeld skade kon aandoen. Maar ek het self haar liedjies in my radioprogram gespeel, en weer gespeel, en weer gespeel … want toe kan ek nie end kry nie … BABY is weg, net Sarah bly oor. En nou HET sy my en sy gaat my nie los nie – dit weet ek sommer, want dit is in haar oë, daardie praatoë, verteloë, intrekoë, diep oë, wen oë … magtag, sal ek kan slaap vanaand?Sarel Botha (21/8/2008)

 

 

Nog resensies ... klik hier!

South Africa's Top Sites

Goue Drome Vermaakgids
Klik hierbo (of op datums hieronder) vir vollediger besonderhede

Bay FM 107.9

Jacques Arndt - Bay FM
Jacques Arendt
Soek jy 'n DJ of compére wat van jou geleentheid 'n lekker JOL kan maak? Iemand wat bekend is in Suid-Afrika se hoofstroom musiekkringe?
 
Gaan lees by
Jacques se webblad (klik hier) hoe hy jou funksie 'n treffer kan maak!

******