Goue Drome

Jou musiek ... ons passie!

     

 

Nuusargief

CARINA RENZ IN BOTSING MET BEES

13 Mei 2009 PE - Talle ondersteuners van die bekende sangeres van Kirkwood, Carina Renz, was gister geskok om te verneem van die ongeluk waarin sy betrokke was toe die voertuig waarin sy en haar ouers gereis het naby Despatch op die hoofpad met ‘n bees gebots.

Die gesin was vroeër Maandagaand by ’n oefening van die groep SIKLUS!, wat hulleself voorberei vir ’n optrede vir die Vereniging vir Serebraal Gestremdes op 30 Mei by die kermis wat op daardie dag op die sportgronde van Hoërskool Cape Recife aangebied word. Die groep toer ook in Julie in Gauteng, tree in Augustus in Kroonstad op en toer saam met Fredi Nest in die Oos-Kaap van 18 tot 22 Augustus. Carina tree ook op 26 & 27 Junie by die Kirkwood Wildsfees op.

Na afloop van die oefening het die gesin die tog Kirkwood toe aangepak waar hulle reeds vir etlike jare woonagtig is. Hulle het via die Swartkopspad gereis en toe hulle by Despatch verbyry het hulle voertuig, ‘n dubbelkajuit bakkie, met ‘n bees gebots. Carina was vir ‘n ruk tussen die sitplekke van die voertuig vasgedruk, maar is redelik gou bevry. Haar ouers, Ferdi en Wilna Janse van Rensburg, het ook ligte beserings opgedoen. Die gesin is in die Cuylerkliniek behandel en ontslaan nadat x-strale getoon het dat daar nie erge beserings opgedoen was nie. Carina se hondjie het ook die ongeluk oorleef.

Die voertuig is onherstelbaar beskadig. Carina sal voorlopig al haar optredes kan behartig, tensy daar onverwagse komplikasies intree.

Boodskappe van bemoediging kan aan die gesin gestuur word by info@gouedrome.co.za.

'n Stoel is gemaak om op te sit…

 

Stoele speel ����n belangrike rol in elke mens se lewe. Ons kry inderdaad ons sit in talle letterlike en figuurlike stoele! Dink maar aan die babastoeltjie waarop jy as baba leer eet het, die twaalf jaar in die skoolbanke, die sogenaamde ‘warmstoel’ wanneer  jy skielik in beheer is en mense baie van jou verwag. Sommiges is in rystoele, ander moet deur die pynlike proses gaan om langs ‘n sterfbed te sit, en baie verkies eerder ‘n leunstoel waarin hulle kan terugsit om die lewe te geniet en te waardeer…

Hoe dit ookal sy: ons almal moet ons sit ken! En soms is dit ‘n lekker sit, maar dit kan ook effe ongemaklik raak.

 

ATKV-PEAAT bied vanaf 13-16 Mei 2009 (elke aand 19:00) hul kabaret ‘n Stoel is gemaak om op te sit by Elizabeth Place (Pickeringstraat, Newtonpark) aan. In dié splinternuwe produksie gaan ‘n talentvolle groep jongmense hul gehoor probeer oorreed om vir ‘n oomblik stil te sit - en selfs ‘n bietjie nader te sit - om te kyk hoekom stoele so interessant is…

 

Ses plaaslike sangers – Annelie Oosthuizen, René Mc Leod, Ilse-Marie Fourie, Riaan Hanekom, Micheal de Lange en Pieter Rademeyer – gaan met treffende liedjies van o.a. Amanda Strydom, Lize Beekman, Jak de Priester, Sarah Theron en selfs een of twee nuwe liedjies uit Pieter Rademeyer se pen, wys hoe daar gesit moet word. Die heerlike luistermusiek word afgewissel met komplimenterende teks.

 Hierdie intieme produksie  beloof om gehore te verras met heerlike oomblikke vol waarhede en kwinkslae. Lilian Zeelie, wat in 2008 met groot sukses die musiek vir hul produksie Ro(c)k ‘n Taal behartig het,  tree weer as begeleier en musikale regisseur op en Pieter Rademeyer is ook terug in die regisseurstoel.

Kaartjies is teen R 50 per persoon beskikbaar by Westway-kafee (Kaapweg, Newtonpark), of skakel Hellen by 041-365 0217.

Vir enige navrae, kan Pieter Rademeyer gekontak word by 083 320 6228 of pieter@prunlimited.co.za

Elizabeth Place bied ook heerlike etes vanaf 17:30 aan en ‘n kontantkroeg is beskikbaar.

 

Maak seker jy bespreek NOU jou sitplek vir ‘n musikale ervaring wat jou regop sal laat sit!


KLIPWERF ORKES VIER 40STE VERJAARDAG LUISTERRYK

Die immergewilde trefferorkes, KLIPWERF, doen in 2009 wat geen ander groep hulle tot dusver kon nadoen nie:

KLIPWERF vier hulle fenomenale 40ste bestaansjaar met ‘n reuse makietie by die ongelooflike CARNIVAL CITY, wat as gulhartige gashere die superorkes en hulle aanhangers gaan ontvang en bederf met ‘n glansaand soos nog nooit tevore nie.

Die geleentheid beloof om propvol verrassings en pure KLIPWERF magic te wees. ‘n Baie besondere en spesiale lekkerte is dat Oupa Hentie, die oorspronklike stigterslid, saam met die huidige orkeslede vir een nommer gaan optree!!! Oupa Hentie het in 1969 saam met sy twee seuns die orkes begin. Wat aanvanklik ‘n lekker saamspelery op die agterstoep was het ontaard in Suid-Afrika se grootste musikale sukses storie. Vandag bestaan die orkes uit: Kobus Visagie, (manjifiek op klawerbord), Johannes vd Colff (briljant op die kitaar), Gené van Niekerk, (die roos tussen die dorings streel die klawerbord soos net ‘n vrou se vingers kan) en Wernich Nagel blink uit op tromme.

 

Dis nie net onder die publiek waar KLIPWERF se groot aanhangers tel nie. CARNIVAL CITY het soveel geloof in die groep dat hulle, asook die fantastiese ORANJERIVIER WYNKELDERS (OWK), wat ‘n rojale borgskap gee, hulle steun vierkantig agter die groot aand gesit het om seker te maak KLIPWERF en hulle ondersteuners gaan ‘n feesviering vir sowat 600 gaste beleef wat die groot mylpaal behoorlik gestand doen.

 

Met Derrich Gardner as seremoniemeester vir die aand, is daar nie ‘n enkele aspek wat agterweë gelaat is om dit ‘n glansgeleentheid sonder gelyke te maak nie. Om hierdie geskiedkundige gebeurtenis te verewig, sal VONK Produksiehuis die aand in DVD formaat verfilm.

Lydia Winchester, na wie die orkes met liefde as Antie Poppie verwys, en al vir baie jare as PRO en vriendin haar kennis, energie en lojale steun agter KLIPWERF sit, het die volgende te sê: “KLIPWERF het ‘n baie spesiale plek in my hart. Hulle is in ‘n mark van hulle eie. Hulle vlieg al hulle klank- en tegniese toerusting, asook hulle kundige producer Murray uit die Kaap op om seker te maak die aand gaan voortreflik wees. Watter ander groep sal soveel moeite en onkoste vir hulle aanhangers aangaan? Hierdie trefferorkes spog tans met totale verkope wat nou al stewig oor die 1 miljoen kerf trek. Van hulle 24 albums en 2 DVDs het 24 Goue status bereik, terwyl ses Platinum status gekry het. KLIPWERF kóók en hulle ondersteuners kan ‘n aand sonder gelyke verwag.”

 

KLIPWERF bewys ook op nasionale kompetisie-vlak dat hulle ‘n groep is om mee rekening te hou. Hulle is pas weer benoem vir ‘n gesogte SAMA-toekenning in die kategorie Beste Afrikaanse Tradisionele Musiekalbum! Hierdie briljante groep het die afgelope klompie jare sonder uitsondering ‘n SAMA toekenning ingepalm, en tog, ten spyte van al hulle suksesse, is KLIPWERF ruimhartige mense wat jou laat voel of jy hulle al jare ken en jou omarm met hulle opregtheid. Deel van hulle sukses lê daarin dat hulle dit ooglopend net soveel geniet om musiek te maak soos die mense dit geniet om op te spring en die dansvloer te bestorm. Langarm, sokkie-sokkie of sommer net balke toe, ‘n ieder en elk se voete sal begin jeuk as die orkes die eerste note slaan.

 

KLIPWERF is sonder skroom ‘n trots Suid-Afrikaanse instelling. Hulle het deur die jare bewys dat hulle aanhangers oor alle generasies strek en dit opsigself is ‘n waardevolle getuigskrif van hulle onteenseglike talent en gewildheid.

Ons wens KLIPWERF opreg geluk met die groot prestasie om reeds 40 j aanhangers te vermaak en plesier te gee.

Vir meer inligting, skakel Lydia Winchester by 011 475 2187 / 082 554 8453 of stuur ‘n e-pos na lydiaw@mweb.co.za

KLIPWERF ORKES KOM VIER OOK HULLE 40STE VERJAARDAG IN DIE OOS-KAAP - KLIK HIER! 

DANSKRAAL: STAANDE OVASIE VIR GOSPEL TREFFER!

Fredi Nest, bekende Afrikaanse sanger, het ‘n geesdriftige Danskraal gehoor verlede Saterdagaand (28 Maart 2009) in Port Elizabeth gaande gehad. Ongeveer in die middel van sy vertoning het hy sy gospel treffer VUUR HIER BINNE MY met volle oorgawe gesing waarna hy ‘n staande ovasie van die  gehoor ontvang het.

 

Sy nuutste treffer, OGIES VIR MY, vind beslis goeie aftrek, maar wat meer indrukwekkend was is die feit dat hy daarin kon slaag om ‘n volle uur lank een treffer na die ander te sing en die gehoor heeltyd gaande te hê oor sy liedjies.

 

Fredi slaag daarin om ‘n gehoor in ‘n oogwink te laat dans en spring en die volgende oomblik hulle in vervoering te hê met ‘n liedjie wat onwillekeurig ‘n traan uit die oog laat drup. Soos sy gewoonte is, be-klemtoon hy die boodskap wat in elkeen van sy liedjies lê soos wanneer hy ‘n getroude paartjie verhoog toe roep en hulle van vooraf weer laat liefde verklaar.

 

Mens neig om yskoud te word wanneer ‘n kunstenaar dit waag om in ‘n kuier  atmosfeer ‘n gospelliedjie sing. Maar toe Fredi Nest dit doen was daar meteens die grootste respek en bewondering vir hierdie man met sy wonderlike talent. En om daarna ‘n staande ovasie te ontvang was baie besonders.

 

Vuur hier binne my was vir etlike weke lank op die NASIONALE GOSPEL TOP 5 op BAY FM 107.9 Sondagmiddae in die program JUBEL EN JUIG (15:00 tot 18:00), wat deur die bekende omroepers Riaan en Ellenor aangebied word.

 

Fredi Nest tree in Augustus by verskillende venues in die Oos-Kaap op wanneer die groep SIKLUS! saam met hom toer. Navrae oor kaar-tjies vir hierdie konserte op Joubertina, Graaff Reinet, Despatch, Jeffreysbaai en Port Alfred kan gerig word aan Elna Botha by 082 706 9717 of by info@gouedrome.co.za.

 

 

ANTON GOOSEN SOM OP IN BEACHVIEW

deur Sarel Botha

29 Maart 2009 - Uiteindelik word die ligte uitgedoof en kerse word aangesteek ... en ek moet my hand byt om te voel dat dit regtig in lewende lywe is wat ek die voorreg het om Anton Goosen se vertoning by te woon.

Dis sommer gou wat die bekende gesig, kêps en al, op die verligte verhogie verskyn. Die opgewondenheid laat die kerse helderder lyk. En dis asof die spook van Uniondale so 'n ligte briesie oor die vlamme laat vloei. So of die kerse wag vir hierdie magiese oomblik om aan te breek.

Anton is lus vir speel, dis baie duidelik - en vir sing. Hy neem die gehoor in die Big Blue Lodge in Beachview naby Port Elizabeth op 'n nostalgiese toer wat strek oor dekades van Goosen-musiek. Hy herinner mens aan Tokkie van "Siener in die Suburbs" en sommer tegelyk gooi hy vir 'n jong seuntjie wat voor in die gehoor sit op versoek vir "Trompie" in die mengelmoes van nuwe en ou liedjies. Hy vergeet nie vir "Kruidjie roer my nie" en bring uit die nuwe era vir "SMS" om te wys dat hy vandag nog steeds "geldig" is - steeds integraal deel uitmaak van die huidige Afrikaanse musiekmark.

En so rol Anton se repertoire van dekades lank uit sy snare en vanuit sy lippe ... en uit sy hart. Dit was sy lewe ... maar dit was ook my lewe. Elke liedjie herinner my aan 'n stukkie uit my eie geskiedenis. Mens koppel mos musiek aan feitlik alles wat met jou gebeur. So onthou ek hoe ek "Siener in die Suburbs" as fliek gaan kyk het in die President fliek in Pretoria. Toe het ek maar min verstaan van die "Musiek en Liriek" beweging wat 'n belangrike mylpaal in ons musiekgeskiedenis is. Min het ek geweet van die skeppinge wat 'n paar straatblokke van my af gereeld in 'n huis gespeel word en wat die Afrikaanse musiektoneel onmiskenbaar sou verander. Die tyd van Koos du Plessis, Jannie du Toit, Karen Hougaardt, Annelie van Rooyen, Mynie Grové, Laurika Rauch en soveel ander wat so lekker aan ons Afrikaanse musiek kom vroetel het en aan ons die musiek-appel uit die Tuin van Eden aangegee het. Nou maak dit soveel meer sin en het ek soveel waardering vir hierdie pionier en sy tydgenote wat 'n verskil kom maak het aan ons musiek.

Gou-gou is hy by "Harlekyn", "Waterblommetjies" en "Die Kaap is weer Hollands" verby en tussenin praat hy oor Joos se dinge - wat hom die joos in maak is dat die media mense en hulle privaat lewens nie kan uitlos nie. Hy is verstom oor die dekking op voorblaaie wat gegee word aan hierdie soort sake wat eintlik geen verandering of verskil gaan maak in hierdie wêreld nie.

Ek is verstom oor die wysheid van hierdie man. Hy het 'n leeftyd van musiek en kennis bymekaar gemaak. Hy praat oor elke stad en dorp asof hy self in elkeen groot geword het. Hy pluk uit elke dorp, plant, boom, blom en enige voorwerp, iets wat vertel van ons, ons mense en ons dinge.

Te gou is die tyd verby. Te gou eindig die nostalgie en ek sit 'n goeie halfuur doodstil om net eers tot verhaal te kom. Dit was so vinnig, so maklik om terug te kyk, so diep en tog so lig. So openbarend. Meesterlik. Wat 'n voorreg om 'n tydjie in hierdie ikoon van Afrikaanse musiek se ligkring te kon deurbring. Sy opsomming van sy eie lewe - en ook myne - te kon beleef.

 

SIKLUS! ONDERSTEUN CANSA OP GRAAFF REINET EN IN PE

 

 

Op pad na ‘n optrede in Middelburg het die bekende Oos-Kaapse sanggroep, SIKLUS!, ‘n draai gemaak by Radio Graaff Reinet 90.2FM waar hulle gul ontvang is deur André en Bernadette Swartz wat dié radiostasie Bestuur. Tydens ‘n onderhoud wat lewendig oor die lug uitgesaai is, is hulle deur ‘n luisteraar uitgedaag om deel te neem aan die CANSA SHAV-A-THON wat in die dorp aangebied is. SIKLUS! het sommer dadelik ingestem en kort daarna is hulle hare gekleur om aan te dui dat hulle die projek ondersteun.

 

Middernag konsert

 

SIKLUS! se ondersteuning vir CANSA word verder onderstreep wanneer hulle op 27 Maart, saam met Gouwsie van Joubertina, ‘n middernag konsert aanbied van 23:00 tot 00:30 ten bate van die RELAY FOR LIFE-projek van CANSA. Spanne van tussen 10 en 15 persone gaan deelneem aan ‘n staptog van tot 12 ure lank rondom die Kensley sportgronde in Port Elizabeth, wat deurnag plaasvind.  SIKLUS! en Gouwsie gaan opgewekte musiek lewer om die spanne aan te moedig terwyl hulle die staptogte onderneem, op ‘n tydstip wat die spanne steun nodig het om verby die middernag-mylpaal te kom. Persone wat graag wil inskryf vir die staptogte kan Joan Duarte skakel by 041 373 5157 of haar per e-pos bereik by jduarte@cansa.org.za.  Toegang by die konsert is slegs R5 per persoon en alle fondse word ten bate van CANSA aangewend. “Almal van ons word op een of ander manier deur kanker geraak,” sê Joan.

 

SIKLUS! nooi al hulle ondersteuners om die konsert by te woon en sodoende die projek te ondersteun. Navrae kan gedoen word by Elna Botha by 082 706 9717.

Siklus! sing op Middelburg

 

 

SIKLUS! STEL NUWE STANDAARDE

 

Port Elizabeth - Die Oos-Kaapse sanggroep, SIKLUS! het met hulle CD-vrystellingskonsert op 7 Februarie nuwe standaarde gestel in die plaaslike musiekbedryf,” het Jacques Arendt van BAY FM 107.9 hier gesê. “Met uitstekende beligting wat deur die bekende beligtingspesialis, Hein Herselman hanteer is en goeie klank wat deur WM Sound & Lighting voorsien is, het die groep gedemonstreer dat plaaslike talent ook op professionele wyse ‘n CD-vrystellingskonsert kan aanbied.”

 

Die geleentheid was deur ‘n geesdriftige gehoor van meer as 400 mense in die MMM Loubser Ouditorium, Somerstrand, bygewoon. Met ‘n grootskerm wat die gehoor gereeld op datum gehou het met inligting rondom SIKLUS! se repertoire en fotos van die groep, asook ‘n kort animasie wat gebruik was om die groep aan die gehoor bekend te stel, was die aand professioneel afgerond en ‘n geleentheid wat nie gou vergeet sal word nie.

 

“Die klank was aanvanklik effens wankelrig,” sê Jacques Arendt, ”maar dit is gou onder beheer gebring.” Dit was SIKLUS! se derde album wat uitgereik is en dit is die eerste keer wat al die snitte, behalwe een, oorspronklike werk van SIKLUS! is wat nie deur iemand anders opgeneem is nie. Die vrystellingskonsert was ‘n fees van uitstekende beligting en puik klank. Die groep het 73 Cd’s van die hand gesit by die konsert.

 

SIKLUS! het baie moeite gedoen om die keuse van liedjies en die verwerking daarvan met die oog op blootstelling aan die nasionale mark te doen. Aan die anderkant poog die groep om met hierdie vrystelling ‘n eie klank te vestig en sodoende ‘n sterker staanplek in die nasionale mark te bewerkstellig.

 

Ses van die twaalf snitte is deur huidige en vorige SIKLUS!-lede self geskryf, terwyl twee snitte deur die bekende Stef Kruger (onder andere Dozi se liedjieskrywer) geskryf is. Nog twee snitte is deur die musikant, sanger en produksie-spesialis, Deon Mattheus geskryf. Een snit kom uit die pen van Pauline Matthews van Limpopo (wat spesiaal die CD-vrystelling bygewoon het) en die slotsnit op die album is ‘n a capella-weergawe van Koos du Plessis se GEBED. Die album bevat ook ‘n BONUS VIDEO van die liedjie SKREE JY OP MY. Dus is dit ‘n album wat ‘n verskeidenheid van genres, bekwame liedjieskrywers en briljante verwerkings bied – voorwaar iets vir almal! Die projek was ondersteun deur BAY FM 107.9 en THE PAXTON HOTEL.

 

‘n DVD van die verrigtinge sal gedurende Maart 2009 beskikbaar wees.

 

Die geleentheid was ook bygewoon deur ander bekende persone soos Pieter Rademeyer (Jnr), Iloreez Meyer, Deon Mattheus, Kevin Mattheus, en die skryfster van die SIKLUS!-liedjie, SKOLOZA, Pauline Matthews (wat vanaf Limpopo gereis het om die geleentheid by te woon). Twee oud SIKLUS!-lede, ELSaBé Rademeyer en Robert Gillmer, asook die Bestuurder van die PAXTON HOTEL, mnr Anton Pretoriues, was onder die eregaste.

 

Foto vlnr: Anton Pretorius (Bestuurder, Paxton Hotel), Jacques Arendt (Stasiebestuurder, BAY FM 107.9), Marcel de Jager (ondersteuner van plaaslike talent), Riana Pretorius).

 

 Die musiekverwerkings is deur Deon Mattheus, in samewerking met SIKLUS! en hulle bestuurder, Sarel Botha gedoen. Sarel was ook die produksiebestuurder van die projek. Die choreografie is deur die bekende Melloney Fourie behartig. Met laser-ligte wat die program verder opgehelder het, het die gehoor hulle gate uit geniet. “Ek kon nie glo dat die tyd so gevlieg het nie,” het Elsie van Eck, een van die lede van die gehoor gesê. “Dit het gevoel asof die program skaars begin het, toe is dit verby.” Die program het sowat 90 minute geduur.

  

Teen die einde het die grootste gedeelte van die gehoor opgestaan en SIKLUS! vereer met ‘n staande ovasie. En die gehoor het uiteindelik hulle sin gekry toe die liedjie SKOLOZA as encore gesing is. Toe was dit voorwaar ‘n nog meer deelnemende gehoor wat gedans, geklap en saamgesing het. Siklus! beoog ‘n hele klompie optredes regoor Suid-Afrika om hulle album bekend te stel.

 

Ek wens SIKLUS! baie, baie, baie geluk met hulle vertoning! Ek was regtig beïndruk met die aanbieding, afgerondheid en veral die CD,” het Pieter Rademeyer (jnr) gesê.

 

SIKLUS! se webblad is by www.siklus.co.za en hulle HOTLINE is 0839130147. Navrae kan ook gedoen word by Elna Botha, telefoonnommer 082 706 9717. Hulle CD is ook beskikbaar by Westway Kafee, Kaapweg, Newton Park, Port Elizabeth, telefoonnommer 041 365 0217. 

 

Stylvoller TALENTé 2009 skop af op 30 Januarie

Die organiseerders van die nou reeds bekende Talenté 2009 reeks van talentaande, het verras deur aan te kondig dat die talentaande reeds op 30 Januarie 'n aanvang neem en dat dit in die nuwe Uptown teaters in Rink straat, Port Elizabeth sal plaasvind.

Sangers wat deelneem aan die reeks talentaande kan ook verwag om goeie raad van 'n puik span beoordelaars te ontvang wat fokus op die ontwikkeling van Oos-Kaapse talent. Die teaters is baie stylvol en behoort verder kleur te verleen aan die gewilde talentaande wat besig is om die Oos-Kaap se teelaarde vir nuwe talent te word.

Sangers sal soos gewoonlik net hulle jaarlikse aansluitingsfooi betaal en nie te betaal vir toegang tot enige van die talentaande nie. Ondersteuners kan kaartjies aanskaf teen slegs R35 per sitplek vir teaterstyl sitplekke of R50 per persoon vir die luukse dekarea. Kaartjies is beskikbaar by Hellen Scriven, Westway Kafee, Kaapweg, Newton Park of by Uptown Teaters, Rinkstraat 1, Port Elizabeth.

Slegs 74 teaterstyl sitplekke en 28 dekarea sitplekke is beskik-baar, wat die aanskaf van kaartjies lank voor die talentaande 'n noodsaaklikheid maak.

Deelnemers kan hierdie jaar ook uitsien na massiewe kontantpryse van tot R1000 per talentaand en tot R10000 by die SUPRA glans-aand.

Heelwat meer belangstelling is van borge ontvang en die volgende borge het besluit om aan boord te kom:

Goue Drome Promosies, BAY FM 107.9, The Paxton Hotel, die Iloreez Meyer Sangakademie, Tempo Musik, De la Rays Recording Studios, Motiv Opname-ateljee en Studio 5 Opname-ateljee. Borge wat belangstel om betrokke te raak kan per e-pos met die organiseerders in verbinding tree by info@gouedrome.co.za of vir Elna Botha skakel by 082 706 9717.

Volledige besonderhede oor die TALENTé 2009 kan by www.talente.co.za verkry word.

Enigeen is welkom om die talentaande by te woon en enige sanger(s) kan aansluit om aan die talentaande deel te neem. Kaartjies is beskikbaar by Hellen Scriven, Westway Kafee, Kaapweg, Port Elizabeth of Uptown Teaters, Rinkstraat 1, Port Elizabeth.

SIKLUS! BREEK DEUR KULTUURGRENS

Port Elizabeth - SJB - 2008-11-27 -  Die Oos-Kaapse sanggroep,   SIKLUS! het vanaand gesorg vir ‘n verrassing toe hulle by ‘n privaatfunksie in Green Bushes, Port Elizabeth daarin geslaag het om die multikulturele bande tussen die teenwoordiges met hulle lewendige en vindingryke musiek te smee. Sommer reg aan die begin van SIKLUS! se program was dit duidelik dat die teenwoordiges die musiek geniet het Daar was iets vir een-en-almal. Hulle program het bestaan uit  Afrikaanse-,  Engelse-, Xhosa- en Zulumusiek en selfs Fanagalo het ook ‘n plekkie gehad!

SIKLUS! was verstom om te sien hoe daar oor die kulturele grense heen respek, waardering en genieting van mekaar se musiekvoorkeure plaasgevind het. Almal het saam gedans, hande geklap en voete gestamp op “mekaar se musiek” en teen die einde van die aand was die geleentheid een groot dans en musiekfees en ‘n ervaring wat die groep nooit sal vergeet nie.

“Ek glo nie SIKLUS! besef werklik hoeveel hulle beteken het vir die mense van hierdie omgewing nie. Hulle vertoning was uitstekend en dit het ‘n vibrasie ontketen. As mens in gedagte hou dat daar geen drank by betrokke was nie, is dit soveel te meer ‘n prestasie,” het Marilyn Landman, organiseerder van die geleentheid borrelend gesels. Die geleentheid was ‘n afsluitingsfunksie van ‘n firma en plaaslike inwoners was ook genooi om dit by te woon. In een aand is daar waarskynlik meer bereik vir onderlinge verbeterde verhoudinge as ‘n hele jaar onder gewone omstandighede.

Firmas wat graag vir SIKLUS! wil bespreek om multi-kulturele funksies vir hulle te doen (wat op aanvraag ook ‘n dans met professionele DJ-werk daarna kan insluit) kan vir Elna kontak by 082 706 9717 of ‘n e-pos stuur aan info@gouedrome.co.za.

Fotos: Hannelie Doubell 

THEUNS, BOK, DOZI: SOU CREEDENCE RYPERD, BLOED EN DE LA REY KON SING?

2008-11-23 Port Elizabeth - SJB - So byna 2000 mense het die  Vodacom Binnenshuise Sportsentrum gepak om die   Trippeltoer van Theuns Jordaan, Bok van Blerk en Dozi te sien. Soos gewoonlik het die manne nie die gehoor teleurgestel nie en met nuwe en ou treffers opnuut in die Baaienaars se harte ingekruip. Dit was ‘n baie spesiale geleentheid om aldrie hierdie supersterre op een verhoog tegelyk te kon sien.

Dozi het sy vermoë om Creedence goed te kan doen, gebruik om die gehoor se aandag nog verder op hom te fokus. Theuns se BEAUTIFUL IN BEAUFORT-WES en SOOS BLOED het die skare gaande gehad. Ou treffers van Dozi, TUSSEN JOU EN MY en GRASSADE IN DIE WIND het die gehoor opnuut geesdriftig gemaak oor hierdie kunstenaar. Teen die einde het Bok en Theuns, as ‘n blote toegif, saam met Dozi enkele Creedence-repertoire laat weerklink. Ek het tong in die kies, met respek, gewonder of Creedence ooit hierdie manne se treffers so goed sou kon sing soos wat hulle Creedence-liedjies sing. En hoewel mens die vibrerende effek van Creedence se liedjies kon voel deur die saal, is daar niks wat die Afrikaanse treffers by hierdie geleentheid kon klop nie.

Maar as daar een liedjie in Afrikaanse musiek is wat sonder enige twyfel groot en blywende impak in die musiekbedryf gemaak het, is dit Bok se DE LA REY. Die gehoor het soos een man opgestaan en saam gesing - sommiges met patriotiese gebare. Dis dan wanneer mens gedwing word om polities te dink en te besef dat die Afrikaner steeds leierloos is. Niemand van die statuur van mense soos De la Rey en ander Afrikanerleiers is tans sigbaar om leiding te gee aan hierdie groep in ons land nie.

Maar die Trippeltoer-konsert in PE was ‘n sukses, weer ‘n oorwinning vir Afrikaans en die feit die gehoor bankvas gesit het tot die einde toe, het weer beklemtoon hoe groot die behoefte steeds bly, hier in die Oos-Kaap, om Afrikaanse musiek  te hoor. En dan sê mens dankie vir BAY FM 107.9 vir hulle bydrae om onder andere Afrikaans lewendig te hou in hierdie geweste.

Foto: 'n Begeesterde BAY FM-span saam met BOK VAN BLERK, THEUNS JORDAAN en DOZI (Foto deur Marius en Yvonne Erasmus)

Belangrik: Hierdie berig is deur Sarel Botha vir GOUE DROME geskryf en is nie vooraf deur BAY FM of enige ander borge van die Trippeltoer gelees nie.

As u graag kommentaar wil lewer op die Trippeltoer-konsert of hierdie berig, stuur ‘n e-pos aan info@gouedrome.co.za.

 

 

Marinus van RooyenWAT SATERDAGAAND MET ONS GEBEUR HET …

 deur Sarel Botha

13 September 2008 - Dis min dat ek en Elna dit regkry om by die huis te wees terwyl daar een of ander kunstenaar in die omgewing is. Ons geniet die konserte en ander optredes, veral as dit plaaslike talent is wat moeite doen om hulleself behoorlik te ontwikkel. Dis asof mens dan 'n vars briesie kry - ietsie anders as die oorbekende hoofstroom musiek.

As daar een ding is waaroor ek en sy saamstem is dat ons geseënd is met die feit dat ons vir Marinus van Rooyen ontmoet het. Dis nou al ‘n hele paar jaar wat ons saam met hom die pad stap en ons sien hoe hier ‘n groot sanger voor ons groter word. Hierdie man het ontsettend baie potensiaal en tree-vir-tree word sy potensiaal ontwikkel sodat hy elke stappie berekend en absoluut korrek neem.

Dis Saterdagaand. Ons het ‘n baie, baie rowwe week agter die blad en smag na rustigheid. Maar ons weet Marinus sing vanaand by die Boardwalk … en ons sien ook nie kans om dit mis te loop nie. Daarom smeer en spuit ons aan wat aangesmeer en aangespuit moet word en klim vol verwagting in die kar.

Daar gekom, sien ons dat hy reeds begin sing het. Die Boardwalk het die goeie gewoonte om ‘n “straatsanger”-atmosfeer te skep langs die meer. Kunstenaars staan met hulle toerusting en sing vir die publiek wat verbybeweeg. Ons staan ‘n rukkie en luister en besluit om ‘n buite-sitplekkie by die El Greco-restaurant los te slaan vanwaar ons kan sit, Marinus goed kan sien en ook goed hoor en sommer ‘n ligte slukdingetjie nader te trek.

Hoe langer ons sit, hoe meer mense drom saam. Dis nie lank nie of daar is ‘n skare. Die mense kom gou agter wat ons so lankal weet, hulle beleef die innemendheid van hierdie man. Behalwe dat hy ‘n uitstekende stem het en elke liedjie, elke liewe keer vertolk asof dit die heel laaste keer in sy lewe is dat hy daardie liedjie sal kan sing, het hy ‘n magnetiese persoonlikheid. Manne hou daarvan om sy blad te skud en rugby en krieket te gesels. Vroue is mal oor sy sexy lyf en bewe van pure lekkerkry as sy eerlike, opregte oë hulle s’n deurboor. Dit laat my dink aan die Showtime-geleentheid waar Marinus as gaskunstenaar opgetree het en die uitdrukking op sy gesig toe een vrou uit die gehoor van haar onderklere op die verhoog gegooi het. En ook van die keer toe hy saam met Nicholis Louw getoer het en op Cradock mense al dansende en singende op die tafels gehad het met sy voorvertoning vir Nicholis. Selfs bejaarde mense het toe nuwe lewe op die tafels ontdek. Hy het hierdie uitwerking op mens – mens wil net dans en sing as hy in die rondte is.

Teen hierdie tyd blokkeer die skare die loopgang tussen die meer en die restaurante. Hulle spring en dans en geniet elke oomblik. Wanneer Marinus ballades sing, sing hulle saam. Hulle swaai en draai – dis ‘n fees! ‘n Meisie wat op trou staan en al haar virendinne hou “kombuistee” op ‘n lekker lawwe manier. Marinus se “konsert” is ‘n bonus vir hulle want hulle kry baie aandag. Marinus moedig selfs die gehoor aan om ‘n geldjie in die “bruid” se donasie-kassie te gooi. Te prettig. Hy sing, heel gepas, Roy Orbison se Pretty Women. Marinus se vrou, Marilies, hou die klank aan die gang – berei elke liedjie voor wat hy volgende gaan sing en saam vorm hulle ‘n uitmuntende span. Iemand skree “Footloose!”.

Elke keer as Marinus opgetree het by ‘n plek en hy met die ondersteuners gesels, tussen hulle beweeg, is daar ‘n opregte nederigheid, opregte dankbaarheid dat hulle hom ondersteun. Dis duidelik nie hy wat so goed is nie, nee! Veel eerder die mense wat hom ondersteun wat goed is. En hy wys dit uit sy hart uit. Niks is aangeplak nie. Hoogmoedigheid is toegesluit in ‘n tronk en sal nooit gedurende Marinus-heerskappy vrygelaat word nie.

Nou is daar nie meer plek vir ‘n muis nie. Brian, die groot ghuru oor vermaak by die Boardwalk, kom gesels met my. “Hierdie man kry dit elke keer reg om in ‘n loopgang ‘n massiewe konsert aan te bied,” lag hy. Hy is bly, want mense hou aangename herinneringe van die Boardwalk en dit wat daar aangebied word as dit so gaan. Dit bring hulle weer terug soontoe en die Boardwalk soek voete daar. Nog terugvoer kom later uit Mari Pretorius van die Boardwalk se mond: "Listen, the vibe that you created on complex last Saturday night was amazing!  All the tenants are still talking about it and even Security spoke about it this morning.  Brian also complimented you on Monday morning!  It was GREAT!!"

Versoeke vir nog liedjies begin instroom. Marinus probeer hier-en-daar uitkom by die versoeke. Dit word laat. Maar almal byt vas. Hulle wil nog, en nog, en nog hoor. Die diepte, die perfekte afgeronde klank, die gebalanseerde keuse van repertoire. Ballades, opgewekte musiek, Engels, Afrikaans – iets vir almal. En half onverwags kondig Marinus die laaste liedjie aan. Die mense is baie duidelik teleurgesteld, half omgekrap omdat dit “so gou” eindig – Marinus het drie ure lank gesing! Hulle skree vir oulaas hulle versoeke uit. Stuck on you, wen. Marinus het ook gewen. Die Boardwalk het gewen. Al die mense het gewen. En ek en Elna het beslis ook gewen.

Kan jy bekostig om weer so ‘n geleentheid mis te loop? Marinus tree weer langs die meer by die Boardwalk op, op 27 September van 19:00 tot 22:00. Geen toegangsfooi. Navrae: Elna by 082 706 9717. Vir nog optredes deur hierdie begaafde kunstenaar, hou die GOUE DROME VERMAAKGIDS dop.

 

WAT IS AAN DIE GANG MET OOS-KAAPSE FEESTE?

Turksvyfees, Despatchfees en Karriefees in een jaar daarmee heen!

Deur Sarel Botha

 

10 September 2008 - Dit is met skok dat daar kennis geneem word van mnr Riaan Marais, wat die spog Despatchfees (ook bekend as Oosterlandfees) reël, se aankondiging gister in DIE BURGER het dat hierdie fees gestaak moet word omdat dit net nie meer lonend genoeg is om dit aan te bied nie. Vroeër vanjaar het die Turksvyfeeskomitee (Uitenhage) aangekondig dat hulle ook nie meer kans sien daarvoor nie en sterk aanduidings is dat nadat Miems Oudshoorn, voormalige organiseerder van die Karriefees op Kareedouw onttrek het aan die reëlingskomitee, daar nie gou weer ‘n Karriefees aangebied sal word nie.

 

In die geval van die feeste in Despatch en Uitenhage gaan dit daaroor dat die oorhoofse kostes te hoog is en dat daar te min vrywiliige hande is om te help om hierdie kostes tot aanvaarbare vlakke af te bring. Wat interessant is, is dat Riaan Marais aangedui het dat die Despatchfees sowat R144 000 moes spandeer aan die kunstenaars en verwante uitgawes, wat die hoof aantrekkingskrag van die fees is, en dat daar uiteindelik na ‘n hele jaar se bloed sweet deur ‘n groot span werkers, slegs sowat R46 000 wins behaal kon word. Dit is waarskynlik ‘n demoraliserende situasie vir ‘n toegewyde span werkers as hulle so hard moet werk en minimum fondse insamel en daarom word hulle nie kwalik geneem as hulle alternatiewe insamelingsmetodes oorweeg nie – in hierdie geval ten bate van die Oosterland Jeugsentrum. Dit is interessant dat slegs Eden, Shaun Tait, Jennifer Zamudio en Bobby van Jaarsveld se optredefooie, vervoer- en verblyfkoste, klank en ander verwante kostes sowat R144 000 kos!

 

Om ‘n kunstenaar te wees is ‘n duur stokperdjie

 

GOUE DROME het self ‘n klompie kunstenaars wat gereeld by verskillende venues optree en die koste om ‘n kunstenaar aan die gang te hou, met verwysing na die opneem van hoë kwaliteit begeleidingsnitte, kleredrag vir verhooggebruik, grimering, stemafrigting, aankoop van liedjies, opneem van albums, videos en DVD’s en talle ander uitgawes, maak dit ‘n hoë uitgawe om ‘n kunstenaar te wees wie se beeld en standaard perfek is vir gehore wat kwaliteit van hierdie aard verdien. Daarom het ons begrip daarvoor dat kunstenaars, selfs plaaslike talent, vergoed moet word vir hulle optredes sodat hulle dit kan bekostig om in die mark te bly. Dit is ook so dat vervoerkoste van kunstenaars drasties duurder geword het en dit dra by tot ‘n duurder pakket om ‘n kunstenaar op die verhoog te kry.

 

Karriefees se uitgawes

 

Maar so was GOUE DROME ook betrokke by die reël van die Karriefees se kunstenaars en sommer so uit die duim uit was daar vir drie dae se kunstenaars wat die Campbells, Ray Dylan, Alan Ladd, Chereé, Charl Smit, Karlien Husselman, Emo Adams, Tommy Dell asook ses van die Oos-Kaapse top plaaslike talent Carina Renz, ELSaBé Rademeyer, Ian Venter, Kevin Douglas, Mattheus en Marinus van Rooyen, insluit teen ‘n koste van sowat R120 000 (staan onder korreksie) – klank en verwante uitgawes ingesluit. Die Karriefees is natuurlik ‘n baie kleiner fees as die Despatchfees omdat die aantal besoekers sowat 3 000 is tenoor die 8000 van die Despatchfees. Die Karriefees het sover bekend net-net gelyk gebreek met hulle uitgawes en inkomste maar was op die punt om uit te brei en vorentoe ‘n groter faktor te word toe Miems Oudshoorn weens persoonlike omstandighede moes onttrek aan die reëlingskomitee en daar sover bekend nog nie ‘n nuwe leier na vore getree het nie. GOUE DROME het probeer om mnr Koos Havenga, voorsitter van die plaaslike Sakekamer te kontak, aangesien mnr Havenga waarskynlik sou kon bevestig tot watter mate die Karriefees ooit weer van die grond af sal kan kom, maar hy is tans in Botswana en ons kon nie met hom ‘n gesprek voer nie.

 

Regstelling in die mark?

 

Feeste is belangrike byeenkomste vir gemeenskappe. En aldrie die betrokke feeste was daarop uit om dit so bekostigbaar moontlik vir die gemeenskap te maak en hulle het baie lae toegangsfooie gehef. Voorwaar prysenswaardig! Dit is egter ook so dat al hoe meer feeste gereël word deur elke instansie of persoon wat meen hulle het die reg om so ‘n fees te reël en dit veroorsaak ook dat alle feeste, die tradisionele feeste asook die nuwes, nie die aftrek kry wat dit suksesvol kan maak nie. Dus lyk dit asof daar ‘n regstelling in die mark plaasvind en dat slegs enkele feeste wat finansiëel kan oorleef, gaan oorbly.

 

Impak op gewone konserte

 

Hierdie situasie het ook ‘n impak op die aanbieding van gewone konserte gedurende tye wat daar nie feest is nie. Dit wil voorkom asof daar baie minder suksesvolle konserte aangebied kan word in die teenwoordigheid van groot feeste, aangesien die gemeenskap hulle geldjies bêre vir die geleentheid wanneer hulle ‘n groot klomp kunstenaars teen ‘n relatiewe lae koste kan sien, eerder as om heelwat meer te betaal vir ‘n konsert van slegs een of twee kunstenaars. Hieroor kan egter baie gedebateer word, want ‘n aanbiedings by ‘n fees en in ‘n ouditorium of teater is twee verskillende dinge wanneer daar na kwaliteit van beligting, akoestiek, en ander aspekte uit ‘n kunstige oog gekyk word. Mens wonder soms hoeveel feesgangers dit besef en hoeveel al werklik by ‘n teater uitgekom het om dit te kan beleef.

 

Die feit bly staan: Feeste is ‘n gesonde aktiwiteit van die gemeenskap. As dit gereeld aangebied kan word teen bekostigbare pryse kan die gemeenskap dit sonder sukkel ondersteun. Kostes dryf egter die organiseerders tot raserny en laat feeste skipbreuk ly. Die hartseer daarvan is dat tradisonele feeste ondergaan.

 

Gee jou mening hieroor – stuur ‘n epos aan info@gouedrome.co.za

Lees volledige reaksie op hierdie berig - klik hier!

 

GoueDromeGoueDromeGoueDromeGoueDrome

Carina Renz verras met debuutalbum

Die saal se ligte doof uit. Dis stil in Kirkwood. Die meeste mense wat nog vir die naweek in die dorp is, is in die skoolsaal. En almal raak stil. Die donkerte maak mens mos stil. Iets gaan gebeur. Alger voel dit aan. Hulle weet, vanaand is die aand waarna die hele dorp al twee jaar lank uitgesien het. Daar's nie plek vir 'n muis nie. Lanklaas dat dit so vol was op 'n Saterdagaand. En toe is die stem daar. Met sagte musiek. Slegs kerslig omsingel deur 'n effense kollig-effek. Goeie harmonieë. Maar die stem ... iets besonders, en die lied ... Die Onse Vader. Wat 'n wonderlike manier vir Carina Renz om die vrystellingskonsert van haar debuutalbum te begin. Wys haar afhanklikheid van Onse Heer.

 

Almal wonder of dit ‘n somber aand gaan wees. Veral toe die volgende lied, Don’t cry for me Argentina, met meer lig, sagte lig, van die verhoog af opklink. Maar nee, direk hierna klink Die liefde wat ons bind, ‘n liedjie deur Carina se vriend, Jaco Barnard, geskryf. Die gordyne nou wawyd oop. Die tempo is vinniger, die ligte bons heen-en-weer, op-en-af teen die saalmure en plafon en nog drie liedjies deur Jaco geskryf volg. Dan is dit Stef Kruger se Saggies en Kuiergas wat aan die beurt kom. Lekker verwerkings hierdie – baie spesiaal. Nog vinniger klop die ritme toe André M, die Oos-Kaap se liedjiekoning wat ook deesdae vir Wynand Strydom liedjies skryf, se twee skeppinge deur Carina gesing-dans word. Dan is Marinus van Rooyen daar. Bekend as Suid-Afrika se Roy Orbison hierdie man. Selfversekerd. Ervare sanger. Hy sing ‘n duet saam met die stêr van die aand. En dan sluit sy af met Virginia Lee se treffer, Ek sal jou nooit vergeet nie, asook Dixieland, wat in Suid-Afrika deur Sally Vaughn tot groot hoogtes gevoer is.

 

Selfs die deksnitte is van vooraf verwerk sodat elke enkele stukkie musiek spesiaal aangepas is by Carina se styl. Agt liedjies is oorspronklike liedjies wat nog nooit voorheen opgeneem is nie. Veertien snitte altesaam op die album. ‘n Verskeidenheid wat tog ‘n eenheid vorm. Liedjies wat vir elkeen in die gesin bedoel is. Daar is geen kans dat iemand nie van een of meer van die liedjies sal hou nie.

 

ONTHOU is haar album se naam. Die versorging van die CD-skyf, die CD-boekie, die drukwerk – alles smaakvol en foutloos. Toe die vertoning van lig en klank en grootskerm verby is, is daar ‘n spontane staande ovasie, totdat sy SAGGIES van Stef Kruger weer ‘n keer sing. In die middel van die liedjie oorval die grootsheid van die oomblik vir Carina. Trane wen woorde – en trane is sterker as woorde. Sy is maar pas 18 jaar oud. Sy het groot gehap, maar goed geslaag met hierdie projek. Twee jaar lank hieraan gewerk. Sy skraap moed bymekaar, pluk woorde vanuit die ruim en maak die lied klaar. Maar almal het klaar opgesom: Sy is ook mens, vlees en bloed soos ons almal. Sy kan ook huil en alhoewel sy regdeur koel en kalm en beheersd voorgekom het, het haar mensheid uiteindelik gewys. Dis wat ‘n kunstenaar gewild maak … mensheid, nederigheid, afhanklikheid.

 

Die mense hou van haar. Agt-en-tagtig koop haar nuwe album. Vyf-en-dertig bestel haar DVD van die aand se verrigtinge. Vir enige kunstenaar in Suid-Afrika is dit ‘n goeie respons. Die versnaperinge na die tyd is heerlik. Kameras flits. Handtekeninge word uitgedeel. “Die Vallei weet nou eers wat hulle in Carina het,” sê Celeste van der Walt, die plaaslike musiekkenner.

 

Die saal se ligte doof weer uit. Hierdie keer om die deur te sluit. Hierdie keer om geskiedenis wat gemaak is agter die deure te bêre. Maar ook sodat Carina kan uitstap, al met die paadjie af, na ‘n nuwe toekoms … een van plesier vir haar en vir haar ondersteuners, wie sy alreeds talle van het. En sy weet: Sy het raak geboor. Daar’s water, daar’s olie, daar is verseker goud!

 

Om te hoor waaroor hierdie bohaai gaan, kry gerus Carina Renz se album, ONTHOU. Dit is op die rak in die Westway Kafee, Kaapweg waar die meeste konsertkaartjies verkry kan word. Of stuur ‘n e-pos aan info@gouedrome.co.za of skakel Elna by 082 706 9717. U sal nie spyt wees nie!”

Kaalvoetklong help meisie

deur Marieke Snyman

 

Die lewe van ’n 11-jarige meisie van Laerskool Saamspan het twee maande gelede drasties verander toe sy uitvind sy het ’n breinstamgewas. Min het sy geweet dat dit die rede sal wees hoekom sy goeie vriende met Kaalvoetklong, bekende sanger, sou raak.

Bregitte van den Berg se ouers is gereelde besoekers by die Wild Horses-kroeg in Kameeldrift-Oos.  Dit is waar hulle vir Kaalvoetklong ontmoet het. “Bregitte se lewenslustigheid verbaas my, en terselftertyd maak dit my hartseer om te dink sy moet nou bestraling kry,” het Kaalvoetklong gesê.

Volgens me Hannelie van den Berg, Bregitte se ma, het die dokter eers gedink sy het dellsindroom omdat haar een ogie baie geswel was. “Toe ons uitvind dat dit ’n gewas is, het ons haar dadelik vir bestraling geneem om te keer dat dit verder groei.

“Kaalvoetklong het vir my gesê die laaste ding waaroor ek en my man ons moet bekommer, is hoe ons vir die bestraling gaan betaal,” het Me Van den Berg gesê. Kaalvoetklong het gesê dat hy geld insamel om te help.  “Ek tree ten minste twee keer ’n maand by die Wild Horses op en samel dan geld in wat ek in ’n rekening vir Bregitte betaal.

“My Kaalvoetklong-pet is baie spesiaal vir my en ek wou dit nooit weggee nie, maar toe Bregitte se hare van die bestraling begin uitval, het ek die pet vir haar gegee,” het hy gesê.

Kaalvoetklong en albei Bregitte se ouers het hul hare afgeskeer sodat sy kan weet sy is nie alleen nie.

Enigiemand wat graag 'n bydrae wil maak om Bregitte te help, kan gerus met die Kaalvoetklong in verbinding tree by 082 834 9276 of diekaalvoetklong@vodamail.co.za.

South Africa's Top Sites

Goue Drome Vermaakgids
Klik hierbo (of op datums hieronder) vir vollediger besonderhede

Bay FM 107.9

Jacques Arndt - Bay FM
Jacques Arendt
Soek jy 'n DJ of compére wat van jou geleentheid 'n lekker JOL kan maak? Iemand wat bekend is in Suid-Afrika se hoofstroom musiekkringe?
 
Gaan lees by
Jacques se webblad (klik hier) hoe hy jou funksie 'n treffer kan maak!

******